–deur Angus Buchan

Terwyl ek besig is om voor te berei vir die volgende Mighty Men’s-konferensie, is ek verskriklik opgewonde oor al die MM-konferensies wat op die oomblik regoor die land plaasvind. Dit is tog sekerlik tekens van die tye – goeie tekens. Dit dui aan dat mans besig is om ‘huis toe’ te kom, dat hulle weer hul leierskapsrol as profeet, priester en koning van die huis opneem.

 Ander tekens kry die aandag

Ongelukkig kyk so baie na ánder tekens van die tye, bv. die aardbewing in Nieu-Zeeland, die tsoenami in Japan of die ontsettende onrus in Noord-Afrika en die Midde-Ooste. Hulle vra die vraag wat duisende mense al oor die eeue heen gevra het: ‘Is dit die eind­tye wat aangebreek het?’ Dié vraag kan net uit Sy Woord beantwoord word. 1 Joh 5:7 sê: “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een.” (OAV). Die Woord is Jesus Christus. As jy dus wil weet wat Jesus se mening oor enigiets is, bestudeer Sy Woord. En dit is presies wat ek gedoen het.

Dief in die nag

Die einde sal nié aanbreek voordat elke nasie op aarde die Evangelie gehoor het nie. Dit beteken nie dat elke nasie gered moet wees nie. Wanneer mense dus kom met ’n spesifieke datum waarop die wêreld aan sy einde gaan kom, bemoedig hulle eerder met dié woorde uit God se Woord in Matt 24:36 waar Jesus sê: “Tog ken niemand die presiese datum en tyd wanneer hierdie dinge sal gebeur nie – ook nie die engele of selfs die Seun nie. Dit weet net die Vader.”

Ek móét eenvoudig glo dat Jesus weet waarvan Hy praat, juis omdat Hy God is! Wanneer ons as mense dus hierdie dinge hoor, is dit menslik om bekommerd te raak. Die beste wat ons egter in die omstandighede kán doen, is om seker te maak dat ons harte en lewens te alle tye in orde is. Die Here het verder ook gesê dat Hy soos ’n dief in die nag sal kom; daar sal geen waarskuwing wees nie. Hy sal op die wolke verskyn en dan breek die groot oordeel aan. Ons kán dus nie langer bekostig om onvergifnis, woede, haat en al die ander afskuwelikhede in ons harte te huisves nie. Ons behoort dit te hanteer terwyl ons nog die tyd het om dit te doen.

 Doen wat jou hand vind

Toe daar aan Martin Luther, die groot hervormer, gevra is wat hy sou doen indien die wêreld die volgende dag sou eindig, was sy antwoord: ‘Ek sal ’n appelboom plant’. Dit het eintlik maar net beteken dat hy sou aangaan met sy lewe omdat dit is wat God wil hê ons moet doen. Hy wil baie beslis nie hê dat ons iewers in ’n grot moet gaan wegkruip en wag dat Hy kom nie. Hy wil hê dat ons die Evangelie moet verkondig en ook aan ander die Goeie Nuus moet bring.

Kalmte steeds noodsaaklik

As gelowiges is ons baie bewus daarvan dat ons wel die laaste dae beleef, maar ons moet kalm bly. Fil 4:6 stel dit so: “Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen.” Ek glo met my hele hart dit is waarom die Here sê dat daar in die laaste dae ’n groter oes sal wees. Ek ervaar dat daar herlewing onder die mans plaasvind.

Dit het hier in Suid-Afrika begin en is besig om vinnig oor die wêreld te versprei. Ons loof en prys God dat mans besef Hy kom weer en dat hulle besig is om gereed te maak daarvoor. As mans en vaders, het ons ook die geweldige verantwoordelikheid dat ons ons gesinne, werknemers, maatskappye, skole en universiteite moet waarsku oor wat in die wêreld besig is om te gebeur.

Daar is geen verskoning om dit nié te doen nie – daarvoor het ons Sy Woord om te bestudeer. Dit is beslis nie ’n tyd om beangs om ons rond te kyk nie. Hy het ook in Heb 13:5 beloof dat Hy ons nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie. En vir my is dít meer as genoeg. Vertrou op God, want Hy sál jou deurdra. Daar is niks te vrees nie, want God is en bly in beheer van hierdie wêreld.


 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)