-deur Peter Hammond

Die Gulag-argipel
Meer as 49 000 kerke is verwoes en meer as 66 miljoen mense het in die massaslagtings, in kunsmatige hongersnood, sowel as in die meer as 1 800 kommunistiese konsentrasiekampe omgekom, soos deur Aleksander Solzhenitsyn in die ‘Gulag-argipel’ beskryf.

Aggressiewe ateïsme
Die Sowjetunie was verbind tot die algehele uitwissing van alle godsdienstige instellings en idees. Militante ateïsme was sentraal tot die ideologie van die Kommunisteparty van die Sowjetunie. Die staat het ateïsme as die enigste ‘wetenskaplike waarheid’ ingestel. Enige kritiek teen ateïsme of die staat se antigodsdienstige beleid is verbied en kon lei tot gedwonge aftrede, inhegtenisname en gevangenisstraf.

Uitwissing van Christelike godsdiens
Lenin het verklaar dat godsdiens ’n struikelblok vir die daarstelling van ’n kommunistiese samelewing is en die uitwissing van alle godsdiens en die vervanging daarvan met ateïsme was daarom die belangrikste ideologiese doelwit van die staat.

Solovki-eiland
In 1992 is agt metropoliete (aartsbiskoppe), 20 aartsdekens en 47 biskoppe van die Ortodokse kerk in die voormalige ortodokse klooster van Solovetsky vermoor. Die klooster wat op die Solovki-eiland in die Witsee gestig is, was die eerste prototipe Russiese konsentrasiekamp; 95 000 gelowiges is hier voor ’n vuurpeleton tereggestel.

Moord op geestelikes
In die eerste vyf jaar van die Bolsjewistiese rewolusie is 28 biskoppe en 1 215 priesters tereggestel. In 1992 is ’n verdere 8 000 priesters vermoor. Dit is onder Vladimir Lenin uitgevoer, vóór Josef Stalin die bewind oorgeneem het. Gedurende die ‘suiwering’ van 1937 tot 1938 is 168 300 Russies-Ortodokse geestelikes gearresteer. Van hulle is meer as 100 000 deur die KGB doodgeskiet.

Huise van Ateïsme
Die League of the Militant Godless (LMG) het daarin misluk om wydverspreide steun van die publiek te werf ten spyte van reuse-staatsbronne vir die bevordering daarvan. In 1959 het Nikita Khrushchev 12 000 kerke in ’n nuwe vlaag kommunistiese vervolging gesluit. Die kommunistiese poging om ’n staatskerk te vestig met die Huise van Wetenskaplike Ateïsme in Russiese stede was ’n volslae mislukking. Daar is geraam dat daar teen die einde van die Khrushchev-era 50 000 geestelikes deur die KGB in die Sowjetunie tereggestel is.

Uitroei van die Christendom
Tydens die Bolsjewistiese rewolusie in 1917 was daar 50 000 Ortodokse gemeentes, 1 000 kloosters en 60 teologiese kolleges in die Russiese Ryk. Teen 1941 was daar minder as 200 gemeentes in die Sowjetunie oor en nie ’n enkele klooster of kweekskool het oorgebly nie.

’n Herlewing van geloof
Tog het die Ortodokse Kerk in Rusland vandag meer as 30 000 gemeentes, 8 000 kloosters en 100 teologiese kolleges; dit is buiten die ander denominasies in die Russiese federasie. (Operation World identifiseer 74 Protestante denominasies in Rusland, met bykans twee miljoen susterkerke, 13 onafhanklike denominasies, 22 Ortodokse denominasies, sowel as Anglikane en Katolieke.)

Christus-die-Verlosser-katedraal
Simbolies van die mislukking van ateïsme en die oorwinning van geloof in Rusland is die Christus-die-Verlosser-katedraal. Hierdie katedraal is in 1931 onder bevel van kommunistiese diktator, Josef Stalin, vernietig. Die katedraal, wat op die noordelike oewer van die Moskwa-rivier in Moskou staan, is gedurende die 19de eeu opgerig. Dit het langer as 40 jaar geneem om te bou. Die sloping van die katedraal moes plek maak vir ’n kolossale Sowjetpaleis wat nooit gebou is nie.

Herdenking van 1812
Die oorspronklike kerk was die toneel van die wêreldpremière in 1882 van Tchaikovsky se wêreldberoemde ‘1812 Ouverture’. Christus-die-Verlosser-katedraal is op aandrang van tsaar Alexander I gebou, ná die Russiese oorwinning oor Napoleon Bonaparte, toe hy op 25 Desember 1812 uit Moskou teruggetrek het. Volgens die tsaar se verklaring: “Om ons dankbaarheid aan die Voorsienigheid te betoon dat Hy Rusland van die lot gered het wat die land oorskadu het…”, moes die katedraal as ’n gedenkteken en ’n getuienis van God se reddende genade en antwoord op gebed opgerig word. Die kerk is gemodelleer na die Hagia Sophia in Konstantinopel. Die katedraal is op 26 Mei 1883 ingewy, die dag voor Alexander III gekroon is.

Die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie
Josef Stalin was vasbeslote om hierdie ikoniese kerk te sloop. Op 5 Desember 1931 is die Christus-die-Verlosser-katedraal met dinamiet opgeblaas en in puin gelê. Dit het meer as ’n jaar lank geduur om die puin op te ruim. Stalin was vasbeslote om ’n Sowjetpaleis met modernistiese verdiepings daar op te rig, met ’n reuse-standbeeld van Lenin wat bo-op die koepel sit met sy arm uitdagend in die lug. ’n Tekort aan geld, probleme met oorstromings van die nabygeleë Moskourivier en die uitbreek van die oorlog in 1941, het verhoed dat hierdie projek sukses kon behaal. Onder Nikita Khrushchev se bewind is dit verander in die wêreld se grootste buitemuurse swembad.

Toestemming om te herbou
In Februarie 1990 het die Russies-Ortodokse Kerk toestemming van Boris Jeltsin se regering ontvang om die katedraal te herbou. Donasies is van een miljoen Russiese burgers ingesamel en die katedraal is op 19 Augustus 2000 ingewy.

Van Ateïsme tot Ortodokse Christenskap
Die Ortodokse Kerk is nou Rusland se grootste en belangrikste nie-regeringsorganisasie. Kerklike simbole, rituele, sedelike waardes en leringe speel ’n leidende rol in die vorming van die nasionale samelewing. Tot 80% Russe maak aanspraak daarop dat hulle Ortodokse lidmate is en dat hulle gedoop is. Die Russies-Ortodokse Kerk is besig om 200 nuwe kerk in Moskou te bou.

Sretensky-klooster
Nog ’n voorbeeld van die mislukking van ateïsme en die oorwinning van geloof in Rusland is die Sretensky-klooster in Moskou. Dit is in 1397 gestig om Rusland se wonderbaarlike bevryding van Tamerlan en die Mongoolse-inval te herdenk. Die klooster is in 1925 deur die Sowjets gesluit en deur die geheime polisie vir opsluiting en teregstellings gebruik. Die Sretensky-klooster is tans weer heropen en is die klooster se uitstekende koor wêreldbe-roemd nadat hulle tydens die opening van die Olimpiese Winterspele in Sochi gesing het.

‘Everyday Saints’-trefferboek
Kloostervoog Tikhom, hoof van Sretensky-klooster, is die outeur van ‘Everyday Saints’, ’n boek van 600 bladsye lank, wat sy getuienis van sy reis van Marxistiese ateïsme na Christenskap beskryf. Meer as 1,5 miljoen eksemplare van hierdie boek is in Rusland verkoop en nog miljoene ook wêreldwyd in ander tale. Tikhom is ’n man na wie president Vladimir Putin hom wend vir advies.

Gesinskonferensie
Met die Russiese regering wat gasheer is vir ’n internasionale konferensie oor gesins- en Christelike waardes, kapelane in die weermag aanstel, Bybels vir hotelle druk en kerkdienste in die Christus-die-Verlosser-katedraal bywoon, is die mislukking van die ateïstiese eksperiment in Rusland finaal.
“Op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” Matteus 16:18.


ïDR. PETER HAMMOND is ’n sendeling, Bybelleraar en outeur. Skakel: 021 689 4480; e-pos mission@frontline.org.za; www.frontline.org.za

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)