Gisteraand het ek een van my gunstelingdinge gedoen. Ek het die vuur aangesteek en smaaklike steaks gebraai. Ek is ’n steakliefhebber. Om die waarheid te sê ek het nog nooit ’n steak teëgekom waarvan ek nie gehou het nie. As jy enigiets van beesvleis weet, sal jy weet dat die verskillende vleissnitte van verskillende dele van die beeskarkas kom. Die kruisskyf en braaistukke kom uit die agterkwart en die kruisstuk (‘rump’). Die sopvleis kom van die skenkels. Daar is egter een vleissnit wat kop en skouers bo die ander uittroon. Dit is ’n gesogte, duur snit en is gewoonlik nie baie groot nie, maar wanneer jy dit eet, is dit hemel op aarde. Dit word die beesfilet genoem.

Segmente van die lewe
Ons geestelike lewe het ook ’n sekere anatomie wat ons moet verstaan. Ek dink dit is veral toepaslik op leraars. Ons daaglikse aktiwiteite kan in verskillende kategorieë gedeel word. Daar is die vleeslike dinge, geestelike dinge, ens. Ons het kerkvergade-rings, bidure, voorbereiding vir die erediens, Bybelstudie, die erediens, berading, vergaderings en ’n litanie ander dinge, wat almal in ’n meerdere of mindere mate geestelik is. Van al die aspekte van die leraar se lewe is daar een deel wat die belangrikste is. Dit is daardie tyd van aangesig tot aangesig met die Vader, wanneer daar niemand anders teenwoordig is nie. Dit is tyd wat jy met die Here bestee, net om by Hom te wees. Jy is nie besig om materiaal vir ’n preek voor te berei of om iemand mee te bedien nie. Daar is geen ander agenda en geen bybedoelinge nie. Dit is net jy saam met jou Skepper, weerloos en oop voor Hom.

Kies die beste deel
Daardie persoonlike tyd saam met die Here is die beesfilet. Dit is die kosbaarste tyd van ons lewens, die tyd van ons dag wat van onskatbare waarde is. Jesus het vir Marta gesê dat Maria die “beste deel” gekies het. Dit was nie dat Marta haar met onnodige dinge besig gehou het nie; sy was met goeie dinge doenig. Sy was besig om die beeslende (‘sirloin’) of primarib te eet, maar Maria het die beesfilet gekies en Jesus was nie van plan om dit van haar weg te neem nie. Leraars is veral vatbaar vir die versoe-king om dit wat die beste is (intimiteit met God) met dit wat goed is (bediening, preekvoorbereiding, aanbiddingsdienste, bidure) te vervang. Dit is interessant om te merk dat Jesus klaarblyklik in Matteus 7:23 met diegene praat wat druk besig is met werk vir die koninkryk. Hy sê dat hulle geprofeteer het, duiwels uitgedryf het en wonderwerke verrig het. Tog blyk dit dat hulle ’n verhoudingsprobleem het. Hulle het Hom nie ‘geken’ nie. Johannes sê dat die Ewige lewe is om die Vader en die Seun te ken (Matt 17:3).

Te besig met ‘kerk’
Ek was vir ongeveer drie jaar lank deel van die Brownsville Herlewing en het ’n interessante verskynsel in die lewens van talle wonderlike Christene opgemerk. Daar was elke aand ’n herlewingsdiens. Bybelskool het die hele dag lank geduur. Bidure het tot laat in die nag en tot vroeg die volgende oggend aangehou. Daar was doodeenvoudig nie tyd vir enigiets anders nie. Aangesien daar so baie tyd by die kerk bestee is, het baie mense gevoel dat ‘stiltetyd’ onnodig was. Ek het gesien hoe mense wat letterlik agt uur lank per dag, of meer, by die kerk bestee het, van die Here af weggedryf het. Hoe is dit moontlik? Die antwoord is eenvoudig: geen hoeveelheid kerkbywo-ning, Bybelstudie, voorbereiding vir preke, ens. kan ’n plaasvervanger vir jou persoonlike verhouding met Jesus word nie.

Kry jou prioriteite reg
Eerstens dink ek is dit noodsaaklik om te erken dat daar ’n “beste deel” is en om dit as die belangrikste aspek van ons lewens te prioritiseer. Dit is belangriker as slaap, eie-tyd, gesinstyd, vermaak, werk, kerk, gesamentlike bidure of voorbereiding vir preke. Dit is nommer een bo aan ons lys!
Tweedens moet ons hierdie tyd uitkoop. Ons moet ons selfoon afskakel, by ’n stil plek uitkom en al ons aandag op daardie oomblik fokus. Ons moet hierdie tyd saam met God waardeer en geniet as ’n keursnit.


DANIEL KOLENDA is die president van Christ for All Nations Mininstries International. Vir meer inligting 086 123 2672 of www.sacfan.org.za

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)