–deur Peter Hammond

Jeremia het sy profetiese sending in die dertiende jaar van koning Josia begin (ongeveer 627 v.C.) en het dit in die elfde jaar van koning Sedekia voltooi (586). Gedurende hierdie tydperk het Josia Juda se godsdiens hervorm, is Assirië deur Babilon vernietig, het Egipte Juda kortstondig in slawerny gedwing, is Egipte deur Babilon verslaan en het Juda ’n Babiloniese vasalstaat geword (605). Juda het in opstand gekom, maar is weer deur Babilon onderdruk (597), Juda het daarna nog een keer in opstand gekom. Hierdie opstand was die laaste een: In 586 het Babilon Jerusalem en die Tempel vernietig en die koning en baie van die vooraanstaande burgers in ballingskap weggevoer, wat die bestaan van Juda as ’n onafhanklike koninkryk beëindig het en die ballingskap na Babilonië ingehuldig het.

’n Boodskap aan ontroue Juda

Die volk van Juda het God verlaat. Die Verbond is geïgnoreer. Afgode is aanbid. Kinders is geoffer en Juda was onsedelik en het afgode gedien. “Want hulle is almal owerspelers, ’n hoop ontroue mense. En hulle span hulle tong…met leuens, en nie volgens waarheid is hulle magtig in die land nie; want van boosheid tot boosheid gaan hulle voort, maar My ken hulle nie, spreek die Here.” Jer 9:2-3.

Jeremia waarsku dat die godsdienstige aktiwiteite van Juda vergeefs is, omdat hulle God nie vrees nie en Sy gebooie nie gehoorsaam nie (Jeremia 2:19). “Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken.” Jer 9:23-24.

Afgodery en onwyse bondgenootskappe

“Moenie die gewoontes van die heidennasies aanleer nie…hulle voorskrif om ’n god te kry, is sinloos…” Jer 10:2-3. Die afgode word blootgelê as vergeefs en kragteloos. Mense wat afgode aanbid word beskryf as: “gekke en dwase…sonder kennis…”

Jeremia waarsku Juda teen die gevaar daarvan om vertroue te stel in bondgenootskappe met Egipte en Assirië. Hy waarsku teen die bedreiging van die opkomende mag van Babilon wat bestem is om die Assiriërs te verower, Egipte te verslaan en Jerusalem te vernietig.

Vals herders

Die godsdiensleiers van Juda word veroordeel as “dwaas”, Jer 10:21: “Want profeet so-wel as priester is goddeloos; selfs in My huis het Ek hulle boosheid gevind…hulle verlei My volk Israel; maar by die profete van Jerusalem het Ek gesien wat afskuwelik is: hulle bedryf owerspel en gaan om met leuens, en hulle versterk die hande van die kwaaddoeners, sodat hulle hul nie bekeer elkeen van sy boosheid nie. Hulle het almal vir My geword soos Sodom, en sy inwoners soos Gomorra…goddeloosheid [het] in die hele land uitgegaan…hulle vervul julle met ydele verwagtinge; gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die Here nie. Hulle sê gedurig aan my veragters: Die Here het gespreek: ‘Julle sal vrede hê’; en aan elkeen wat wandel in die verharding van sy hart, sê hulle: ‘Geen onheil sal oor julle kom nie’…As hulle in My raadskamer gestaan het, sou hulle My woorde aan My volk meegedeel het en My volk van hulle verkeerde koers af laat wegdraai het, van hulle sondige dade af.“ Jer 23:11-22.

Die vrug van vals profesieë

Diegene, wat so vol vertroue aangevoer het dat Juda veilig is omdat hulle “die volk van God” is en dat Jerusalem nooit oorwin sou word nie omdat God die stad sou beskerm, is blootgelê as waardelose vals profete. God se Verbond was altyd voorwaardelik en Klaag-
liedere dokumenteer  God se waarskuwing op tydens die gee van die Wet: “As jy nie sorgvuldig al die woorde van hierdie Wet hou wat in hierdie boek geskryf is, om hierdie heerlike en gedugte Naam, die Here jou God te vrees nie, dan sal die Here oor jou en oor jou nageslag buitengewone plae bring, groot en aanhoudende plae, en kwaadaardige en aanhoudende siektes…om julle tot niet te maak en  ulle te verdelg, en julle sal uitgeruk word uit die land waarheen jy gaan om dit in besit te neem. En die Here sal jou verstrooi onder al die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde…en onder die nasies sal jy geen rus hê nie…en jou lewe sal voor jou aan ’n draad hang, en jy sal nag en dag skrik en van jou lewe nie seker wees nie.” Deut 28:58-68.

“Hulle het hul aangesig harder gemaak as ’n rots, geweier om hulle te bekeer…hulle het dwaas gehandel, omdat hulle die weg van die Here, die reg van hulle God, nie ken nie.” Jer 5:3-4.
“Hoor, aarde! Kyk, Ek bring onheil oor hierdie volk, die vrug van hulle planne; want na My woorde het hulle nie geluister nie, en my Wet, dié het hulle verwerp.” Jer 6:19.

’n Dramatiese en visualiserende profeet

Om die boodskap wat die Here aan hom toevertrou het te dramatiseer, het die profeet Jeremia dikwels van simboliese en visuele illustrasies gebruik gemaak. Jeremia het ’n kleipot voor die leiers van Jerusalem stukkend gegooi om te dramatiseer hoe Jerusalem en die Tempel vernietig sou word (hoofstuk 19:1-15). Jeremia het selibaat gebly nadat God hom opdrag gegee het om nie te trou nie as illustrasie van die eensaamheid wat oor die afvallige volk van Juda sou kom, wanneer hulle die land in ballingskap moet verlaat.

Jeremia het met ’n juk op sy nek geloop om te demonstreer dat die hardnekkige volk Juda onder onderdrukking van vreemdelinge gebuk sou gaan (Jer 27:1-13). Jeremia het ’n stuk grond gekoop toe die Babiloniërs reeds die land begin inneem het. Hoewel dit na ’n mors van geld gelyk het, was dit profeties om aan te dui dat die land 70 jaar later weer onder die beheer van God se volk sou kom.

’n Boodskap van hoop

Hoewel Juda tot ’n val sou kom en die Tempel vernietig word, het Jeremia vooruitgewys na ’n toekoms van herstel. Ná 70 jaar van ballingskap in Babilon sou ’n oorblyfsel van die volk terugkeer, die Tempel herbou en Jerusalem herstel.

Die boek Klaagliedere

Die boek bestaan uit vyf gedigte.

  • In die eerste hoofstuk staan die stad soos ’n verlate wenende weduwee
  • In hoofstuk 2 word hierdie ellendes in verband gebring met nasionale sonde en God se straf
  • Hoofstuk 3 spreek van hoop vir die volk van God: die kastyding sou net tot hulle eie beswil wees; ’n beter toekoms het in die vooruitsig gelê
  • Hoofstuk 4 betreur die verwoesting en verlatenheid van die stad en die Tempel
  • Hoofstuk 5 is ’n gebed dat Sion se oneer weggeneem mag word met die berou en herstel van die volk

Oordeel oor sondige Jerusalem

Klaagliedere is in die eerste vier hoofstukke as ’n akrostiese gedig gestruktureer; elke vers begin met ’n ander letter van die Hebreeuse alfabet. Jeremia beskryf die oordeel van God wat hy aanskou het oor onsedelike Jerusalem wat in afgodery verval het: verlate, verwoes, in nood, vernietig, veronteer en verag.

Omdat die volk God se wet verbreek het en geweier het om Hom as Here te gehoorsaam, het hulle die land verloor. Geen Wet nie. Geen land nie. “Haar teëstanders het haar heersers geword, haar vyande lewe nou rustig. Die Here het haar laat ly oor haar baie sonde; haar kinders het ballinge geword, deur die vyand weggevoer. Die prag van Sion het alles verdwyn.” Klaag 1:5-6.

“My sondes is saamgebind tot ’n juk, hulle is saamgevleg deur die hand van die Here, hulle is op my nek gesit, en dit het my krag laat ingee. Die Here het my oorgegee in die mag van mense teen wie ek geen weerstand kon bied nie.” Klaag 1:14.

Hoop midde die as

“Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan Sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.” Klaag 3:22-23.

“Laat ons ons doen en late deeglik ondersoek en ons tot die Here bekeer, laat ons met ons hele hart ons hande na God in die Hemel uitsteek en bely: ‘Ons het sonde gedoen en was opstandig…’” Klaag 3:40-42.

’n Gebed vir herlewing

“Bekeer ons tot U, Here dan sal ons ons bekeer; vernuwe ons dae soos in die voortyd.” Klaag 5:21.


 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)