–deur Peter Hammond

Toe hy sy priesterskap op 30-jarige ou-derdom sou begin, is Esegiël as profeet geroep. Terwyl Jeremia die volk in Jerusalem gewaarsku het, het Esegiël die bannelinge in Babilon bedien. Terselfdertyd het Daniel in die hofhouding van Babilon diens gedoen. Esegiël is die enigste profetiese boek wat outobiografies is, met die profeet wat in die eerste persoon skryf. Esegiël openbaar ’n fassinerende en unieke bedie-ningstyl. Hy maak gebruik van simbole, gelykenisse, gedigte, spreuke en straatteater om die profesieë en visioe-ne wat die Here aan hom toevertrou het oor te dra.

Die historiese konteks

Meer as ’n eeu tevore het die tien noordelike stamme van Israel die waarskuwings van die profete Amos en Hosea geïgnoreer en is vir hulle onsedelikheid en afgodery geoordeel, deur Assirië verower en uit die land verban.

Ten spyte van die rampspoed wat die noordelike koninkryk van Israel getref het, het Juda voortgegaan om in onsedelikheid en afgodery te verval en die profete, Jesaja, Mika, Habakuk en Jeremia te ignoreer. Die volk van Juda het selfs in so ’n mate ontaard dat hulle babas aan die heidense god, Molog, geoffer het (in die Ben-Hinnomdal, waarna
Jesus Christus verwys het toe Hy die hel beskryf het – Gehenna, die ashoop wat voortdurend brand).

Ná die dood van Josia het ’n reeks goddelose konings gevolg. Joahas het slegs drie maande regeer voordat hy in kettings na Egipte geneem is. Daarna het Jojakim gevolg wat onverskillig was oor die geestelike toestand van die nasie en sy vertroue in die supermoondhede Egipte en Babilon geplaas het.

Gaan na die huis van Israel

“En Hy het vir my gesê: Mensekind…die hele huis van Israel het ’n harde voorhoof en ’n ongevoelige hart…jy mag nie vir hulle bevrees of vir hulle verskrik wees nie, omdat hulle ’n wederstrewige huis is…neem al die woorde wat Ek vir jou sal sê, in jou hart op…of hulle al luister of nie…Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel…As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe – en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te jou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jy die regverdige waarsku, dat die regverdige nie moet sondig nie, en hy sondig nie, dan sal hy sekerlik lewe, omdat hy hom laat waarsku het; en jy het jou siel gered.”
Esegiël 3:1-27.

Afgodery en onsedelikheid

Esegiël herinner sy volk aan waarom hulle land onder ruïnerende aanvalle van die Arameërs, Moabiete en Ammoniete gebuk gegaan het: Die volk van Juda het hulle aan afgodery, onsedelikheid en ondankbaarheid skuldig gemaak. Die Judeërs het Asjera, Tammus en die Songod aanbid, selfs in die Tempel. Esegiël het Jerusalem as “die bloedige stad“ beskryf weens die hartelose uitbuiting van weduwees, wese en vreemdelinge, en weens die moorde wat in die stad geduld is.

Afvalligheid van Jerusalem

Esegiël 16 beskryf Juda as ’n koningin wat ’n prostituut geword het. Die twee arende waarna Esegiël verwys, verteenwoordig Farao in die weste en Nebukadnesar in die ooste. Juda word beskryf as wilde druiwe wat so nutteloos en waardeloos geword het dat dit slegs deug vir vuurmaakhout. (In Johannes 15, gebruik die Here ’n soortgelyke gelykenis.)

Persoonlike verantwoordelikheid

Hoewel die verwoesting van Jerusalem en die ballingskap na Babilon geskied het deels as gevolg van die kumulatiewe skuld van Israeliete wat oor geslagte heen teen God en Sy wette gerebelleer het, het Esegiël die nagevolge van individuele ongehoorsaamheid in hoofstuk 18 beklemtoon.

In die Ewigheid sal elkeen van ons vir ons eie sondes geoordeel word. “Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.” Esegiël 18:20.

Persoonlike keuse

Esegiël stel dit duidelik dat elke individu persoonlik vir hulle eie geestelike toestand verantwoordelik is. Dit dien geen doel om jou voorvaders die skuld te gee nie. Hoewel ons hier op aarde ook die gevolge van ons voorvaders se slegte keuses dra, sal elkeen van ons op die Oordeelsdag alleen rekenskap gee van daardie dinge waarvoor ons persoonlik verantwoordelik is. Dit mag wees dat jy nie aanspreeklik gehou kan word vir die wyse waarop jy grootgemaak is nie, maar jy is aanspreeklik daarvoor as jy nie iets daaraan verander nie.

Die grootste gevaar

Die gevaar van God se oordeel oor boosheid is baie ernstiger as dié van ’n invallende weermag wat ’n stad bedreig. ’n Mens kan ’n stad teen vreemde invallers verdedig, maar niemand kan die betragting van ’n alwetende, alomteenwoordige, alwyse God vryspring nie. Niemand kan ook die oordeel van ’n alomteenwoordige Regter vryspring nie. Niemand kan hoop om seëvierend uit ’n stryd teen die God Almagtig te tree nie.

’n Gewigtige verantwoordelikheid

Dit is ’n profeet van God se gewigtige plig om ’n verstandige en ernstige boodskap te bring. Indien die landsburgers nie hulle sondes erken, berou toon en die Woord van God vasberade gehoorsaam nie, sal hulle in hulle sondes sterf (Esegiël 3:17-21).

Ongeag hoe individue op die waarskuwing reageer as hulle die boodskap gehoor het, het die profeet sy plig vervul. Dit is ons plig om op die boodskap te reageer. Die gevolge is in God se hand. As die boodskapper egter nie die waarskuwing rig nie, sal die mense se bloed aan sy hande wees
(2 Timoteus 4:1-5).

Die mislukking van die leiers

Die profeet Esegiël het die skuld vir die komende vernietiging van Jerusalem voor die deur van die profete, priesters en konings gelê. Daarom sal die Messias die Profeet, Priester en Ko-ning wees. Esegiël het sy hare afgeskeer en net ’n paar toutjies agtergelaat om te simboliseer dat baie mense van Jerusalem deur die swaard sou sterf, dat ander verbrand sou word en diegene wat oorgebly het saam met die wind verstrooi sou word. Net ’n handjievol sou in die land oorbly.

Die vals herders

“Wee die herders van Israel wat aan hulleself weiding verskaf! Moet die herders nie die skape laat wei nie?…julle versterk die swakkes nie en maak die siekes nie gesond nie en die wat gewond is, verbind julle nie en wat weggedryf is, bring julle nie terug nie en wat verlore is, soek julle nie… so het hulle dan verstrooid geraak, omdat daar geen herder was nie…daarom, o herders, hoor die woord van die Here…Kyk, Ek het dit teen die herders! En Ek sal My skape van hulle hand eis…Ek sal My skape uit hulle mond uitruk…” Esegiël 34:1-10.

Profetiese insig

God het Esegiël geestelike insig en profetiese vooruitskouing geskenk. Esegiël en Daniël is die beste voorbeelde van apokaliptiese (openbarende) taal in die Ou Testament. Daar is meer profesieë in Esegiël en Daniël as in enige ander profetiese boeke van die Ou Testament. Die boek Openba-ring kan nie met insig gelees word sonder om Esegiël en Daniël, waarop Openbaring gebaseer is, sorgvuldig te bestudeer nie.

“En julle sal weet dat Ek die Here is” verskyn 74 keer in Esegiël. In hoofstuk 4 tot 24, betreffend oordele oor Jerusalem, is die bewoording: “En julle sal weet dat Ek die Here is.” In hoofstuk 25 tot 32, in die profesieë teen die nasies, is die refrein: “En hulle sal weet dat Ek die Here is.”

In die laaste afdeling van Esegiël (hoof-stuk 33-48), wat oor die herstel van die Tempel handel, is die bewoording: “En die
nasies sal weet dat dit Ek die Here is
.”

In hoofstuk 11 verklaar Esegiël dat die heerlikheid van die Here die Tempel verlaat het weens die boosheid en goddeloosheid van die profete, priesters, prinse en volk
van Jerusalem.

Die vallei van droë bene

Die Here het Esegiël ’n vallei vol droë
bene gewys en gevra: “Kan hierdie bene lewendig word?”

God het hom beveel: “Profeteer oor hier-die bene…hoor die Woord van die Here!…En sodra ek geprofeteer het, was daar ’n geruis, en kyk – ’n beroering! En die bene het nader gekom, elke been na sy been. Toe kyk ek en – daar was senings op hulle, en daar het vlees op gekom, en ’n vel is bo-oor hulle getrek…toe het die gees in hulle gekom, en hulle het lewendig geword en op hulle voete gaan staan – ’n ontsaglike groot leër!

  • Wanneer laas het God met jou gepraat?
  • Wat het Hy gesê? Het jy Hom gehoorsaam?
  • Wanneer die mens luister, praat God
  • Wanneer laas het die jy krag van die Heilige Gees ervaar?
  • Is jou gees verdor?

Bring die gestorwene terug na die lewe

Net soos die krag van Jesus se woorde: “Lasarus, kom uit!” die gestorwe Lasarus uit die dood opgewek het, só kan ons die krag van God se Woord, waar dit getrou verkondig word, in werking sien wanneer dit diegene wat geestelik dood is, lewend maak. “Die geloof kom dus deur die prediking wat ’n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus.” Romeine 10:17. “[Die Evangelie] is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo.” Romeine 1:16.

Jesus in Esegiël

Wanneer Esegiël die profete, priesters en prinse van Juda vir hulle afgodery, onsedelikheid, ondankbaarheid en ongeregtigheid veroordeel, wys hy na God heen, die Een wat die ware Herder is, wat sal kom om soos ’n Goeie Herder na Sy skape te soek. Omdat
Jerusalem ’n bloedige en onsedelike stad van afgodery en ongeregtigheid geword het, sal God ’n Nuwe Jerusalem bou.

Omdat die tempel deur afgodery en intergeloofsaanbidding ontheilig is, sal die Messias self die Tempel word waaruit strome van lewende waters vloei, wat genesing en seën aan die nasies bied (Esegiël 47).

Lewende waters

Die boek Esegiël begin met somber verdoeming weens die goddeloosheid van God se volk, maar eindig met ’n glorieryke visioen van hoop wanneer God self ingryp en Sy koninkryk op aarde vestig tot seën van die nasies. Dit word alles vervul deur
Jesus Christus – die Tempel waaruit die strome van lewende water vloei ter genesing van die nasies (Johannes 7:37).

Paradys herwin

Die boek Genesis begin met die paradys wat verlore gaan weens die ongehoorsaamheid van Adam en Eva. Die profeet Esegiël gee ’n vooruitsig op die tyd wanneer die paradys herwin sal word, weens die gehoorsaamheid van die Tweede Adam. Jesus kom om Sy goedheid en seën te laat vloei oral waar die vloek aangetref kan word.

’n Nuwe Verbond

“Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word; van al jul onreinhede en van al jul drekgode sal Ek julle reinig. En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee. En Ek sal My Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in My insettinge wandel en My verordeninge onderhou en doen.” Esegiël 36:25-27


 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)