-deur David Malherbe

Werksekuriteit aan die kwyn

Wanneer ek iemand met loopbaankeuse- of verandering deur Career Direct-toetse help, word daar onder meer gekyk hoe belangrik sekuriteit vir hulle is. Dit is meestal een van die belangrikste uitkomste wat mense van ’n beroep verlang.Ná meer as twintig jaar se noue betrokkenheid by die bevordering van entrepreneurskap weet ek die vasklou aan sekuriteit is die grootste struikelblok wat mense moet oorkom voordat hulle ’n eie besigheid sal oorweeg. “Waar kan ek ’n werk kry?” of “As my kind maar net ’n werk kan kry,” is by verstek die denkrigting wanneer loopbaankeuses ter sprake kom. 

Werksekuriteit is aan die afneem
Volgens Solidariteit en ETM se onlangse arbeidsmarkindeksmeting word die aantal mense in Suid-Afrika wat werksekuriteit geniet, al hoe minder. Dit is egter nie ’n nuwe verskynsel nie. Jeremy Rifkin het in sy boek, The End of Work, wat al in 1996 gepubliseer is, aangevoer: “Millions of working people remain skeptical. Every week more employees learn that they are being let go. In offices and factories around the world, people wait, in fear, hoping to be spared one more day. Like a deadly epidemic inexorably working its way through the marketplace, the strange, seemingly inexplicable new economic disease spreads, destroying lives and destabilising whole communities in its wake.” Party skrywers het Rifkin al as ’n aarts-pessimis beskryf; tog blyk dit sy woorde word grootliks bewaarheid. Die afgelope twintig jaar het die werkloosheidsyfer in Suid-Afrika met bykans 20% toegeneem.

Die invloed van tegnologiese vooruitgang
Dié probleem is egter nie net tot Suid-Afrika met sy ekonomiese en politieke onstabiliteit beperk nie. Rifkin se boek handel eintlik oor die invloed van tegnologiese vooruitgang op die werkplek en dit geskied wêreldwyd.
Almal sien daagliks hoe werksgeleent-hede in alle sektore van die ekonomie verlore gaan as gevolg van toenemende meganisering en rekenarisering. Al bied meganisering die voordeel van groter produksie teen laer indiensnemingskoste, veroorsaak die groter wordende werkloosheidskrisis daar is minder mense wat
geld verdien en dié produkte en dienste kan koop. Alhoewel baie nuwe werksgeleent-hede in die rekenaar- en tegnologiesektor geskep word, vergoed dit nie naastenby vir die wat verlore gaan nie. Die meeste werksgeleenthede wat tans geskep word, is vir hoër, geskoolde arbeid, terwyl baie van die mindergespesialiseede werksgeleenthede verlore gaan.

Behoefte aan opleiding
Die uitkoms vir mense wat hulle werk verloor, sal in die toekoms waarskynlik wees om hulle eie besighede op die been te bring of om in die steeds groeiende nie-winsgewende sektor betrokke te raak.
’n Sakevriend het onlangs opgemerk, baie mense in hulle gemeente sowel as in die groter ekumeniese gemeenskap het die afgelope tyd hulle werk verloor en kry finansieel swaar, en die toedrag van sake kan waarskynlik in die toekoms toeneem. Hy het ook gereken hoewel heelparty ’n eie besigheid oorweeg of dalk al begin het, die meeste van hulle nie oor genoegsame besigheidskennis beskik nie. Sy groot versugting is dat die Kerk sy lidmate in hierdie verband sal kan bystaan. Nie soseer in die vorm van aalmoese nie, maar mentorskap en opleiding deur ander Christen sakemanne en -vroue.

Die Kerk en die Werkplek
Daar is wonderlike Bybelgefundeerde literatuur en kursusse sowel as gewillige opleiers en fasiliteerders beskikbaar. Ongelukkig bestaan die wanpersepsie dat die Kerk nie by die werkplek moet inmeng nie, terwyl dit juis die plek is waar ons geloof gestalte moet kry. Dit is waar ons sout en lig moet wees.Sulke moeilike ekonomiese tye neig om ’n mens lam te lê. Die meeste mense bly hoop dit sal hulle nie tref nie totdat hulle die dag hoor hulle het nie meer ’n werk nie. Selfs die grootste maatskappy waarborg nie werksekuriteit nie. 

God se aanmoediging
Dit is soos in die tyd van Jeremia toe daar baie vals profete die volk probeer sus het dat hulle nie na Babilon weggevoer sou word nie. Selfs toe hulle al in ballingskap was, het die vals profete steeds volgehou alles sou gou weer regkom. Jeremia se woord was egter die waarheid. Hy het vir God se volk ’n profetiese brief geskryf. Ons lees in Jer 29:4-11 “So sê Ek, die Here die Almagtige, die God van Israel, vir al die ballinge wat Ek uit Jerusalem in bal-lingskap na Babel toe weggevoer het: bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring. Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie. Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.” Die Here sê dus hulle moet nie gaan sit en niks doen nie, maar moet aanhou werk en doen wat hulle hande vind om te doen – huise bou, boer, besigheid doen, kinders kry, en die belange van die stad waar hulle hul bevind, bevorder. Ek glo dit is wat die Here wil hê ons ook in hierdie onseker tye moet doen. Moenie toelaat dat die onse-kerhede jou lamlê nie. Begin iets nuuts, gaan voort met jou lewe en bou iets nuuts.

Beplan vir die toekoms
Laat ons die werklikhede van ons tyd aanvaar en daarby aanpas. Indien ’n mens lank voor die tyd reeds begin dink en beplan watter besigheid om te begin as jy jou werk sou verloor, maak dit die oorgang veel makliker. Miskien wil die Here juis dit gebruik om jou in die toekoms te seën. Ek glo die Here bedoel dit steeds goed met ons, soos Jeremia in vers 11 sê: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!”


 

Return to Home

Share Your Thoughts


By signing in, you agree to receive our fantastic weekly afrikaans2letter.
You may opt out at any time, although they're pretty good ;)